Om vir ‘n geruime tyd saam te woon, vestig nie ‘n gemeenregtelike huwelik nie

In die Suid-Afrikaanse reg bestaan daar nie iets soos ‘n “common law marriage” nie, ook waar persone saam bly of waar dit ‘n huishoudelike vennootskap genoem word. Gevolglik is daar geen wetlike raamwerk om die regte van persone in bovermelde tipe verhoudings te reguleer nie.

Saamwoon verwys na persone van enige geslag wat saam woon sonder om regtens getroud te wees. Dit het die gevolg dat sulke persone nie dieselfde regte as getroude persone besit nie.  In gevalle waar persone bloot saam woon sonder om getroud te wees, bring dit mee dat hulle nie aan die regte en verpligtinge wat die huwelik teweegbring hoef te voldoen nie, ongeag die duur van hulle saamwoon.

Daar word oor die algemeen geglo dat indien partye vir ‘n geruime tyd saam woon, ‘n gemeenregtelike huwelik (common law marriage) tot stand kom en huweliksvoordele dan bestaan, DIT IS NIE WAAR NIE!

Saamwoon begin al meer algemeen voorkom en daar word vermoed dat dit in Suid Afrika jaarliks verdubbel.

Anders as by huwelike waar die partye tot die huwelik deur spesifieke wetgewing beskerm word, bestaan daar nie so iets vir saamwoon nie. Partye wat saam woon, het geen regtelike verpligtinge om mekaar te onderhou nie en kan dus nie onderhoud eis nie.

Wat banke betref, sal daar nie ‘n gesamentlike rekening vir persone wat nie regtens getroud is, oopgemaak word nie. Daar kan wel ‘n rekening in een party se naam oopgemaak word waar albei tekenregte het. Dit beteken natuurlik dat die persoon in wie se naam die rekening is, ten volle aanspreeklik sal wees vir enige skulde aangegaan.

Ten spyte van die feit dat daar geen statutêre erkenning van saamwoon is nie, het die howe in uitsonderlike gevalle, tog regshulp aan partye wat saam woon verleen deur ‘n uitdruklike of geïmpliseerde universele vennootskap te erken. ‘n Universele vennootskap ontstaan waar partye in alle materiële aspekte as vennote optree, sonder dat daar ‘n formele vennootskapsooreenkoms bestaan. Wanneer so ‘n verhouding ophou bestaan, mag howe bates wat gedurende die verhouding bekom is, verdeel. Die probleem is egter om die elemente van so ‘n vennootskap te bewys. Daar moet bewys word dat daar gesamentlike bydraes gemaak is ten einde ‘n winsgewende onderneming te vestig tot voordeel van beide partye.

Ten spyte daarvan dat persone wat saam woon nie dieselfde regte as getroude partye geniet nie, word daar in sekere wetgewing wel soortgelyke erkenning gegee. Die Wet op Gesinsgeweld erken saamwoon- verhoudings. Die Wet op Mediese Skemas definieer ‘n afhanklike om ook ‘n “vennoot” in te sluit. Beide die Wet op Inkomstebelasting sowel as die Wet op Boedelbelasting, behandel persone wat saam woon, as getroud vir inkomstebelasting doeleindes en erken dieselfde geslag en heteroseksuele verhoudings.

 

Daar is huidig ‘n konsepwetsontwerp, die Wet op Huishoudelike Vennootskappe, wat, wanneer dit uitgevaardig gaan word, baie leemtes sal aanspreek wat betref die regsposisie van persone wat saam woon. Alhoewel die howe soms universele vennootskappe erken het, was sodanige erkenning onderhewig aan streng vereistes wat bewys moes word.

Ten spyte van al die vordering wat in die verband gemaak is, sal dit steeds raadsaam wees om proaktief op te tree en ‘n saamwoonooreenkoms op te stel sodat albei partye se regte beskerm word.

Dit sal ook raadsaam wees om hierdie ooreenkoms in ‘n mediasie sessie te bespreek.  Latere moontlike misverstande sal verhoed kan word, aangesien die partye alles gesamentlik ooreenkom.

 

Contact Us

Send us a Message